Oor Len

Len Muller het gedurende 2015 sy debuut album, DOODGEWONE AVONTUUR, uitgereik en dadelik die aandag van die publiek, media en industrie geterk met sy vars en inspirerende aanslag. Hy het ook onlangs drie gesogte Ghoema nominasies ontvang: a) Manlike kunstenaar van die jaar b) Nuweling van die jaar en c) Album van die jaar. Daar is tien splinternuwe liedjies op die album wat vars, uitdagend en eie aan Len se skryfstyl is. Medeskrywers sluit die befaamde Stef Bos, Retief Burger (Luidkeels), Bouwer Bosch (Straatligkinders & Dans Dans Lisa), asook Jattie de Beer (Vertikaal & Dou Voor Dag) in. Die uniekheid van die nuwe album kan ook toegeskryf word aan die insluiting van verskeie ander kunstenaars (Stef Bos, Joshua na die Reën en Janie Bay) wat saam met Len op van die liedjies sing.

Len was voorheen bekend as die voorsanger van die alternatiewe rock groep DieFoute en het aan die einde van 2011 besluit om ‘n solo loopbaan aan te pak. Hy het Richardsbaai vir Pretoria se liggies verruil en oor ‘n tydperk van drie jaar sy oorspronklike material geskryf. Len se eerste EP Album getiteld, Len Muller, is in 2012 by Wynand Delport produksies opgeneem en dieselfde jaar nog uitgereik.

Gedurende Augustus 2014 is een van die liedjies, Smag na Jou, landwyd aan radiostasies uitgereik en die reaksie was oorweldigend. Die liedjie het op talle radiostasies se treffer parades gepryk en was ook vir verskeie weke op GrootFM se ‘Groot 20’’.

Die konsep vir die musiekvideo van Smag na Jou is geïnspireer deur die behoefte om die boodskap van die lied op die beste manier oor te bring, maar ook om vir Len Muller bekend te stel. Om hierdie begeertes ‘n werklikheid te maak was dit ‘n voorreg om saam met die baie kreatiewe span van Duck Soup Productions

(www.ducksproductions.com) te werk. Jana van Deventer en haar man, Eugene, se sterkpunt is juis konsepontwikkeling en was hulle dus die perfekte vennote vir die vervaardiging van die musiekvideo vir Smag na Jou. Om Len se talent nog beter ten toon te kan stel was dit ‘n voorreg om saam met Raldo Mattheus (tjello- en basspeler), Fred de Meilon (trom speler) en goeie vriend, Leslie van Wyk (elektriese kitaar), te speel. Die video kan gereeld op kykNET, SABC2, ASTV, Tshwane TV en MK Skole Top 10, gesien word.

Smag na Jou musiekvideo: https://www.youtube.com/watch?v=KSmA5mZCPkA

Een van Len se grootste drome het waar geword toe Smag na Jou gekies is om een van die liedjies op die klankbaan van die nuwe Afrikaanse familie-film, STRIKDAS, te wees. Die film is vroeër in 2014 landwyd in teaters vertoon en die lied verskyn ook op die klankbaan.

Nie net het ‘n klankbaan-droom van Len waar geword nie, maar ‘n groot eer het hom ook te beurt geval. Len is deur kykNET en Afri-visie genader om ‘n nuwe lied Iets om in te Glo (geskryf deur Mynardt Smith) op te neem. Die liedjie het ‘n plek in die Top 10 finaal behaal waartydens Len die liedjie voor ‘n stampvol Grand West Casino opgevoer het. ‘n Indrukwekkende musiekvideo is ook van die liedjie gemaak en kan gereeld op kykNET en kykNET Musiek gesien word. Die lied is op 4 Mei 2015 amptelik aan radiostaties landwyd uitgereik, en het ook op die trefferparades van verskeie radiostasies gepryk.

Iets om in te glo musiekvideo: https://www.youtube.com/watch?v=a97pro2M62Y

Gedurende Oktober 2015 het Len weer vir ‘n verrassing gesorg! Die keer saam met die gewilde Stef Bos. Len het vir een van die mees bekendste Afrikaanse liedjies Sarie Marais, (ook op sy album Doodgewone Avontuur), ‘n nuwe baadjie aangetrek en Stef het ‘n vers bygeskryf. Die musiekvideo vir hierdie liedjie is ook gedurende Oktober 2015 bekendgestel en kan steeds gereeld op Afrikaanse TV kanale gesien word.

Len vertel: "Van kleins het ek en my boetie gereeld na Jim Reeves se plate geluister op die plaas. So het ons die lied 'Sarie Marais' leer ken en gereeld saamgesing. Dit was eers later toe ek my eie liedjies begin skryf het dat ek my eie verwerking wou doen vir die liedjie. Die groot rede hieragter is dat ek nog altyd voel die storie en lirieke van die lied praat van meer emosie as wat die traditionele melodie kommunikeer. Daarom het ek ook vir Stef Bos gekontak en gevra of hy saam met my sou werk aan die lied. Ek is al lank ‘n aanhanger van sy musiek omdat dit soveel emosie dra. Dit was ‘n droom wat waar geword het toe hy instem om saam met my te werk en toe sommer ‘n pragtige vers bygeskryf het vir die lied."

Sarie Marais musiekvideo: https://www.youtube.com/watch?v=_uesdrbi2I8

Op 22 Februarie 2016 het Len sy nuwe enkelsnit en musiekvideo, Vir Die Een Wat Geval Het, in samewerking met Joshua na die Reën uitgereik. Hierdie liedjie pryk tans in die Nr. 1 posisie op talle radiostasies se trefferparades onder andere GrootFM en Maroela Media.

Die lied het vir die jong sanger baie persoonlike betekenis. “Dit is een oggend geskep nadat ek 'n verskriklike droom gehad het. Ek het gedroom dat ek op my eie begrafnis was. Die begrafnisondernemer het gepraat oor geure en dat ons elkeen 'n sekere geur agterlaat. Ek onthou ek het so vir myself gestaar wat daar in die kis gelê het en ek het gewonder wat my lewe beteken het… Dit het my laat dink aan my nalatenskap.”

Toe ek wakker word die oggend het ek toevallig 'n skryfsessie met my goeie vriend Jattie de Beer geskeduleer. Hy het die oggend ingestap, by die klavier gaan sit en Vir Die Een Wat Geval Het se inleiding begin speel. Ons het binne twee ure saam die lied geskryf.”

Oor die video sê hy: “Die idee vir die konsep van die musiekvideo het ontstaan as gevolg van 'n belewenis wat ek 'n paar jaar terug gehad het. Ek was in 'n ernstige karongeluk omdat my vriend dronk bestuur het.

Ek het gevoel ek wil die lied se sterk boodskap koppel aan iets wat 'n verskil in mense se lewens kan maak. Dit het my laat dink dat om op jou selfoon te tik en te bestuur net so sleg soos dronkbestuur is, omdat dit nie net jou eie lewe in gevaar stel nie, maar ook die van ander mense op die pad.

Ek is vreeslik skuldig daaraan, maar die lied gaan oor tweede kanse en in die musiekvideo probeer ons dit ook so uitbeeld.”

Vir die een wat geval het musiekvideo: https://www.youtube.com/watch?v=y0tyOP-PVDI

Hierdie jong talentvolle sanger toer die land plat en tree by al wat 'n fees is op. Sy liedjies kan gereeld op radiostasies regoor Suid-Afrika gehoor word en aan entoesiasme en talent ontbreek hierdie jong sanger glad nie!

My lirieke is baie persoonlik, diep en eerlik. Dit kom byna netso uit my persoonlike joernaal. Ek wil graag hoop in mense se lewens insing en dié bemoedig wat deur swaar tye gaan. Ek is moeg vir veral Afrikaanse musiek sonder enige emosie. Ek glo ek het meer om oor te sing as net geld, meisies en goeie tye. Die mooiste liedjies vir my is die hartseer liedjies; want moeilike tye is ook deel van die lewe waardeur ons almal gaan”. – Len Muller

Len is besig om 'n sterk nalatenskap in die musiekbedryf te skep en alle oë en ore is op hom terwyl hy stelselmatig sy merk as een van Suid-Afrika se gewildste jong sterre maak en het ook al die verhoog saam met van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars gedeel. Dié kunstenaars sluit in: Jan Blohm, Die Straatligkinders, Dans Dans Lisa, Kaleidoskoop en Joshua na die Reën.

KYK HIER NA ANDER VIDEOS VAN LEN MULLER:

Webtuiste: www.lenmuller.co.za
Twitter: www.twitter.com/lenniemuller
Facebook: www.facebook.com/lenmuller1
Instagram: @Lennie.Muller
YouTube: www.youtube.com/lenniemuller
Soundcloud: www.soundcloud.com/lenmuller

Besprekings: 
E-pos: bookings@lenmuller.co.za

Platemaatskappy: Kanada Records

Publisiteit & Bemarking:
STARBURST PROMOSIES
Alishia van Deventer
083 635 4717
alishia@starburstmusic.co.za
www.starburstmusic.co.za